Svoboda | Graniru | BBC Russia | Golosameriki | Facebook
Transfiguration pending
Gaan na inhoud

New Scotland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

New Scotland is ‘n boerderystreek in die suidooste van Mpumalanga.

Ligging

[wysig | wysig bron]

Die gebied is tussen die Vaalrivier in die weste en die Mpumalanga-eSwatini-grens in die ooste. Chrissiesmeer is nagenoeg die noordweshoek en Oshoek die noordoospunt. As suidgrens kan die Ermelo-Amsterdam-pad (R65) geneem word. Twee standhoudende riviere, die Usutu en die uMpuluzi, vloei deur die area.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Hier word geboer met beeste, skape en ‘n bietjie graan. Groot boomaanplantings van bloekoms, denne en wattelbome is aangelê. Hout vanaf die saagmeulens is per trein op die trajek van Amsterdam na Ermelo vervoer. Steenkool kom op beperkte skaal voor.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Alexander McCorkindale het met ‘n groep Skotte in Natal gewoon. Die grootwildjagter David Forbes het McCorkindale aanbeveel om liewer met sy groep na hierdie gebied met ‘n goeie klimaat, heuwels en vlaktes, baie weiveld, volop wildsbokke en water te verskuif. Pres. M.W. Pretorius en sy regering was opgewonde oor die idee en het in 1864 ruim grond beskikbaar gestel vir die plan. McCorkindale stig twee maatskappye, die London and South African Commercial, Agricultural and Mining Co. en die Glasgow-South African Co. ‘n 300 gesinne sou in Skotland as immigrante gewerf word en op ‘n paar honderd plase gevestig word. Goedkoop en volop ammunisie sou beskikbaar gestel word, ‘n bank is beoog en ‘n goedkoop lening sou aan die ZAR-regering beskikbaar gestel word. ‘n Pad na die see, bevaarbaar gemaakte riviere en ‘n hawe onder die ZAR se beheer sou ontwikkel word. Boonop sou die Skotte as ‘n buffer dien teen die invalle deur die Swazi’s. McCorkindale kon nie genoeg steun in die buiteland werf om die immigrasieskema ten volle uit te voer nie. Na sy skielike dood in 1871 het sy grootse planne deels in duie gestort. Die meeste Skotte het die gebied verlaat en op die goudmyne van die Witwatersrand en die diamantvelde van Kimberley ‘n heenkome gesoek.

Plekname

[wysig | wysig bron]

Sekere plek- en plaasname in die gebied herinner nog aan die Skotte, soos o.a. Lothair, Warburton, The Brook, Lochiel, Waverley, Mpumalanga. Die plek Roburnia (vernoem na Robert Burns) staan vandag bekend as Amsterdam, Mpumalanga.

Persone

[wysig | wysig bron]
  • David Forbes (*1827 - †Amsterdam, Mpumalanga, 15 November 1905), jagter, pionier in die destydse Oos-Transvaal en Swaziland
  • Alexander McCorkindale (*Glasgow?, Skotland, 23 Desember 1816 - †Inyaka-eiland, Delagoabaai, 1 Mei 1871), kom in ±1850 na Suider-Afrika, is jagter, pionier en vroeë voorstaander van immigrasie en nywerheidsontwikkeling in die Zuid-Afrikaansche Republiek

Soortgelyke vestigings

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]